Monday, 29 October 2012

Ons Goeie Herder...

ek het die laaste week en 'n half 'n paar keer voor die rekenaar kom sit om iets te skryf...

 ek wou jou vertel van my 5jarige wat tantrums in die winkel gooi wat enige 2jarige sal laat skaam kry...van wat die tantrums my geleer het...oor die neerlê van "my idee van perfek'...

maar niks wou vloei en reg klink nie...

gister was ek by 'n vroue tee en het ek 'n boodskap gehoor wat hierdie sukkelende mamma so VRY gemaak het en weer moed gegee het om aan te gaan...

ek gaan nie die hele boodskap nou hier deel...miskien kry ek later 'n kans...

maar vanaand, mamma-vriendin wil ek vir jou sê...Jesus is jou GOEIE Herder (Johannes 10:11)

wat dit vir my op die oomblik beteken is dat Hy KLAAR betaal het, KLAAR voorsiening gemaak het vir al die areas waarmee ek sukkel en waarin ek faal...hoe wonderlik is dit nie!

my vermoë laat my heeltemal in die steek om hierdie reg te verduidelik, so ek wil graag 'n ou bekende Psalm oor jou bid...mag Heilige Gees jou bedien wanneer jy dit lees!

Liewe Mamma-vriendin,  die Here JESUS is jou GOEIE Herder...

in die neerlê van Sy lewe(Joh10) het Hy alles voorsien, sodat daar NIKS sal wees wat jou ontbreek nie, sodat daar GENOEG genade is vir jou dat jy môre oggend (en elke oggend) weer sal kan opstaan en weer sal kan probeer...om 'n mamma te wees...om 'n vrou te wees

Hy lei jou, liefste vriendin, na groenweilvelde, na waters waar daar rus is...jou tênkie voel dalk leeg en jou oë seer van die min slaap...mag jy vanaand(vanoggend) onthou dat hierdie ook net 'n kort seisoen is in jou en jou kinders se lewe...mag jy ervaar en sien hoe hy jou lei na groenweivelde...'n koppie koffie saam met n goeie vriendin, 'n onverwagte aanbod om die kinders op te pas, die kinders wat wonderbaarlik almal vroeg aan die slaap raak!

Hy gee jou NUWE krag..as jy voel dat jy aan die einde van jou draad gekom het...dat daar NIKS meer is om te gee...mag jy voel hoe Sy krag jou kom versterk, dat as jy terug kyk dat jy sal weet dis net Hy wat jou deurgedra het...dat jy 'n getuienis sal hê van Sy voorsiening vir jou!

Hy lei jou op die pad van GEREGTIGHEID, tot eer van Sy naam...as gevolg van die prys wat Jesus betaal het, staan ons geregtig...geregverdig voor Vader God...Sy bloed was alle aanklagte weg...jy weet mos daardie aanklagte dat jy nie n goed-genoeg mamma of vrou is nie:
jy sien 'n ander kind se kosblik en trap in die lokval van vergelyking...of 'n ander mamma kom ge-"make up" en ge-"polish" by die skool aan en jy is in 'n sweetpak broek met jou hare in n bokstert...of dit voel of jou dag gekenmerk word deur talle "mini meltdowns" tussen jou en jou peuters...of jou geduld is te min, jou woorde te hard, jou wysheid skiet kort...Jesus sê: Ek het klaar betaal, dit is volbring...Ek gaan verheerlik word deur en in jou gebrokenheid!

Wanneer jy loop deur die vallei van doodskaduwee...deur daai donker, diep kloof waar al jou vooraf uitgewerkte antwoorde en verklarings nie meer werk nie...wanneer niks sin maak...dit lyk of daar niks is om voor te hoop...hoef jy nie te vrees nie, want Jesus is by jou...ek weet party mense sien dit anders, maar ek besef net al hoe meer dat God nie beloof niks slegs gaan ooit met ons gebeur nie...Hy beloof wel dat Hy by ons sal wees...en dat Hy weet, selfs van elke haar wat van ons kop afval. In die doodskaduwee sê Jesus steeds ek het KLAAR betaal sodat jy die genade en GENESING kan ontvang wat jy nodig het...

Hy berei vir jou 'n feesmaal, voor die oë van al jou vyande...mag jy midde-in jou groot krises (siekte, finansiële of huweliks probleme, kind wat sukkel) of klein krises ('n peuter wat nie 'n trui wil aantrek, die hoeveelste glas gemorste koeldrank) beleef hoe God jou as eregas verwelkom... jou kop salf met olie (jou toerus vir die situasie) en jou beker(jou hart? jou energie? jou geduld?) OORvol maak!

Net GOEDHEID en GUNS sal jou vergesel al die dae van jou lewe...mag jou oë oopgaan om te sien hoe en waar Vader God jou seën...waar Hy jou guns gee...waar Hy voorsien het.

en jy sal bly in die Huis van jou Vader, al die dae van jou lewe...mag jy nie vasgevang raak in die tydelikheid van die oomblik of van vandag nie...mag jy onthou dat jy n HUIS het, 'n veilige plek het, by Abba Vader (Pappa God)!!

Al my liefde en seën vir jou! Mag jy veilig en geliefd voel hierdie week!

jou mamma-kameraad-vriendin
leandri

Watter openbaring van Jesus help jou op hierdie stadium? Waarmee sukkel jy vandag? Waaroor kan ons saambid vir jou? Los gerus 'n "comment" en kom ons bou saam 'n gemeenskap van mamma's wat mekaar ondersteun!

PS:Weet nie hoe om te "comment" ? Kies die opsie "name/url" en tik net jou naam in...en daar gaan jy!

Tuesday, 16 October 2012

as dinge skeef loop...

vandag het ek n paar goed gedoen wat NIE op my mental to-do-list was, toe ek vanoggend opgestaan het nie...

die vreemdste ding moet wees dat ek my grasperk gestofsuig het!! en NEE my appelkarretjie het nog nie heeltemal omgeslaan nie...

vandag was maar net een van 'daai' dae...

ek wil jou nou nie verveel met te veel detail...hier is die kort daarvan:

daar was 'n sak met wit polisterien balletjies op ons solder (jip, soek vir moeilikheid)

ons het klein hondjies (hier kom moeilikheid)

die sak was om een of ander rede op die grond (definitief SMEEK vir moeilikheid)



die sak word stukkend gebyt!

die skeurtjie was klein genoeg dat Rudi (manlief), nie dink dis nodig om die gat toe te plak voor hy dit weer bere op die solder nie...

waarmee hy nie rekening gehou het nie, was die wind wat onder deur die dak waai en hoe staties en VEERLIG daai klein balletjies is

vanoggend toe ek die deur oop maak wat na ons garage lei (eintlik net n glorified afdak...nog geen deure), was dit net spierwit, STATIESE, klouerige balletjies op die vloer, kaste, kar...en grasperk!

dinge het skeefgeloop...

so rukkie terug het ek en Rudi gepraat oor hoe dit ons soms kan pootjie as iets verkeerd loop en dit sommer dan voel of die hele dag ontspoor is...

ons besluit toe dat ons dalk moet ophou om te verwag dat alles altyd moet 'reg' loop...nie op 'n pessimistiese "daar gaan maar altyd iets verkeerd" manier nie, eerder net om in jou gedagtes ruimte te laat dat alles dalk nie heeltemal gaan verloop soos wat jy in jou kop gedink het nie...

die naweek woon ons toe n wonderlike kursus by wat gaan oor vreuge en lag ...besluit toe dat dinge-wat-skeef-loop ons lag 'trigger' gaan wees ('n doelbewuste besluit om te soek na die humor in 'n situasie)

hier kom my toets toe in sy sneeuwitte glorie...

en ek faal...

ek grom oor die stukkende sak, oor die gemors, oor die kinders wat vol wit balletjies is en dit orals in die huis agterlaat soos hansie-en grietjie spore,  oor my ander planne wat nou eers moet wag, oor die gesukkel om dit skoon te maak...

en die balletjies wat pak in die stofsuier...

en toe terwyl ek so sukkel met die verstopte stofsuier en met geduld met Shalome (ousus) wat 'help', skakel ek die suier aan en kry n FULL BLAST balletjies in my gesig! 

kwaad woorde brand op my tong...

en toe hoor ek Shalome se laggie, wat klink soos sagte klokkies...

haar ogies kyk uitnodigend (lag saam, mamma!) en onseker (kom hier n ontploffing?) na my...

en ek lag! sommer lekker kliphard uit my maag...!

en shalome lag...!

en terwyl ons so lag voel ek hoe die frustrasie en spanning uit my vloei en die res van die skoonmaak gaan makliker en vinniger...en was baie meer pret (almal moes n beurt kry om ge-'blast te word)

so hier is my seenwense vir jou mamma-vriendin: mag die Heilige Gees jou seen met Sy vreugde vandag! Mag Hy jou sensitief maak om die geleenthede vir lag raak te sien!!

liefde en seen,
leandri


Monday, 15 October 2012

op my merke, gereed...SPRING!

dis nou al n rukkie wat ek dink en droom om te probeer om te blog...

ek het al amper drie maande terug hierdie "profile" opgestel...

en toe vasgehak!


dalk moet ek dan begin met hoekom ek wil blog:

op hierdie maltrap pad van mamma en vrou wees, leer ek elke dag nog iets...

oor hoe om 'n kleuter, 'n peuter en 'n baba gelyk te betrek by n kunsaktiwiteit...(of hoe om dit NIE te doen nie - haha)


of het ek n a-ha oomblik oor hoe om n tantrum te hanteer...

of hoor ek by PappaGod wat regtig in my dogtertjie se hart aangaan, hoekom sy so "stout" is...

of ek en my man het n deurbraak in kommunikasie wat ons verhouding verdiep...

ek leer meer en meer om vry te kom van vrees, vergelyk met ander en om Jesus te aanbid in die alledaagse, praktiese neusies afvee, doeke omruil, gemorste koeldrank opvee en die hoeveelste rusie hanteer...

en ek dink (glo?hoop?) dat wat ek geleer het, dalk vir iemand anders kan help en vryheid bring...

dis dan seker hoekom ek wil blog eerder as om net n joernaal te hou...

en dan het ek ook die hoop en droom dat hierdie n gemeenskap (n veilige plek) kan wees vir mamma's...

waar ons kan erken dat hierdie nie altyd maklik (of selfs nie eers lekker) is nie...

waar ons kan erken dat party dae wil ons sommer vroeg-vroeg handoek ingooi as die derde bakkie cheerios op die vloer beland...dis nou nadat die hele kas uitgegooi is opsoek na n 'hello kitty' hemp (wat sy gister aangehad het), baba al van 5am lus was vir speel en ousus sommer net moeilik en ontevrede wakker geword het...

maar dan ook dat ons hier mekaar kan bemoedig om daai handdoek maar week op te tel, n goeie skud te gee en weer (en weer, en weer) te probeer!

want nee, hierdie is nie n treurmare oor hoe moeilik dit is om n mamma te wees en hoe sleg ons mans en kinders is nie... nee dis eerder n waardering van eg en eerlik en opreg wees! n feesviering van die (rare) oomblikke waar als reg loop en n terugleun in Jesus se genade in my onvermoe om myself en my kinders te verander...

en dan is hierdie 'n uitlaat klep vir my...n plek waar ek my gedagtes kan orden...myself weer kan herinner aan die werkilke prioriteite...waar ek kreatief kan wees met woorde en gedagtes, kan filosofeer en uitsorteer.