Monday 21 July 2014

As die hare waai...

Kinders kom met baie uitdagings...

Een van hierdie uitdagings, wat my kaal die veld wil laat in hardloop, is BAKLEIERY...voel of ek partydae gedurig referee speel en probeer uitvind wie het eerste wat gedoen...aargh!!

Ek het die laaste ruk baie hieroor gedink:

Hoekom baklei hulle? Wat is die wortel van hulle gedrag? Hoe kan ek hulle help? en op my minder goeie dae:  Gaan dit OOIT ophou?!!

Hier is so paar dinge wat ek tot sover kon uitfigure:

Hoekom baklei kinders? 

Daar is seker nog ander redes, maar vir my lyk hierdie na die hoofoorsake:

1. Daar is meer as een kind onder een dak  ;)
 Hieraan kan ek nie veel doen nie. Die koeël is deur die kerk!

2. Hulle saambly (saamspeel) vaardighede is nog besig om te ontwikkel.
Om mededeelsaam te wees en beurte te maak kom nie natuurlik nie...(en heelwaarksynlik veel later as wat ons graag sou wou erken)
Vir my is hier die belangrikste, om die 'proses' te vertrou. Om te onthou dat hoe dit NOU lyk is nie hoe dit vir altyd gaan lyk nie. 

3. Hulle is onseker/onveilig of moeg.
As een van die kids besonder skoorsoekerig is...het ek al geleer om dit as 'n teken te sien dat daar iets anders aan die gang is. Partykeer is dit sommer net moegheid...maar meer gereeld is dit 'n uitroep na aandag.

'n Paar tips en trieks wat ek sover raak geloop of gelees het:

Simmer down chairs
Ek het hierdie idee by my gunsteling kinderstorie raakgeloop: 'Charlie & Lola'. In een van die episodes 'squable' hulle en moet dan op hulle 'simmer down chairs' gaan sit totdat hulle kan vrede maak. 

Van alles werk dit nou die beste met my oudste tweetjies (5 & 6 jaar). As hulle rusie begin hande uitruk, moet elk op 'n eetkamer stoel sit (moet nie te gemaklik raak nie) en hulle mag eers weer opstaan as hulle 'n plan kon maak om verder te speel. Ek meng nie in nie en raak glad nie betrokke by wie het wat gesê en gedoen. Dit werk verbasend goed!!
 

Jammer bank
 Hierdie is een van Hettie Brits se oulike planne

Die kort daarvan is. Die kinders sit saam om die bank. Elkeen kry 'n beurt om te sê wat hulle verkeerd gedoen het (let wel nie wat die ander een verkeerd gedoen het) en dan moet almal saam aan 'n plan dink om verder vrede te bewaar...

Dis baie arbeidsintensief (vir die ma/pa) in die begin, maar werp verseker vrugte af!

Spesiale dag
Dis 'n plan wat ek ook al iewers raak gelees het. Het dit nog nie self gedoen nie...maar kan insien dat dit kan werk.

Elke kind kry 'n beurt om 'n spesiale dag te hê (roteer dan om die beurt) As dit jou spesiale dag is mag jy voor in die kar sit, kies watter tv-program julle kyk, eerste 'n beurt kry, ens. 

Ek kan sien dat dit konflik kan verminder...ek wonder maar net of dit nie dalk dan juis minder geleentheid gee om hierdie vaardighede te oefen...maar aan die ander hand het ek die gevoel dat daar nog oorgenoeg situasies is waar hulle sal kan oefen?

Alleentyd saam met Mamma/Pappa
Ek het 'n paar weke terug besluit om dit 'n prioriteit te maak om elke dag 'n 'alleen tydjie' met elke kind in te werk. Ek probeer dit redelik eenvoudig hou (anders raak dit onmoontlik)...die doelwit is om elke dag n aktiwiteit (van hulle keuse) saam elkeen te doen...dit kan of net 5 minute wees waar ons saam 'n boekie lees of 'n puzzle bou of dit kan 2ure wees waar ons saam aan 'n projek werk...om saam te ry iewers heen tel ook, maar dan sit ek die radio af en doen moeite om met my pasasiertjie te 'connect'. As dit so uitwerk dat een iets alleen saam pappa doen...tel dit dan ook vir daardie dag...so hou ek dit eenvoudig en binne my bereik.

Ek laat my lei deur die program van daardie spesifieke dag en ook wat ek ervaar die kind se behoeftes is.

Vir elke huis gaan hierdie anders lyk. Ek het nie 'n werk buite die huis nie en ons doen tuisonderrig so  dit gaan baie anders lyk vir 'n mamma wat voltyds werk...elkeen doen wat hy kan en wat vir hom werk. Wat ek wel waargeneem het is dat die hoeveelheid konflik tussen die kinders (en selfs die konflik tussen my en die kinders) direk verband hou met hoeveel tyd ek met elk spandeer. 

Modelleer goeie konflikhantering

Daar is 'n algemene siening dat mens nie voor jou kinders moet baklei nie...ek stem hiermee saam, my vraag is net waar sien hulle dan hoe om dit reg te hanteer.

Hoor my mooi dat ek nie dink alle gesrpekke is goed vir kinderoortjies nie, maar ek dink dis goed vir ons kinders om te sien as ek en Rudi verskil oor iets en dan te sien hoe ons by 'n oplossing uitkom...as ons die probleem uitgesorteer het, praat ons ook gewoonlik met die kinders daaroor en verduidelik vir hulle wat gebeur het.


Verder moet ek hulle maar gereeld herinner om eerder woorde as vuiste te gebruik, om te deel en beurte te maak...en om jammer te se.
 

Deel n bietjie watter planne het jy al raak geloop? Wat werk goed vir julle?

(Ek het 'n oulike facebook groep begin spesiaal net vir Mamma's. Dis 'n geslote groep wat beteken net die groepslede kan sien wat jy met die groep deel en nie al jou ander "friends" nie...sal lekker wees as jy ons kom join by M.O.M (mamma's ondersteun mekaar)!! https://www.facebook.com/groups/261488830701339/












Saturday 8 December 2012

in vergelyking met...


in vergelyking met...

dit was(soos gewoonlik!!!) 'n dolle gejaag om almal gereed te kry vir kerk...
Mary-Jane het, met die irrasionaliteit en hardkoppigheid wat net 'n driejarige kan bymekaar skraap, besluit dat sy die VUIL(!!) hempie, waarmee sy gisteraand op die bank aan die slaap geraak het (ja, sy het nie gebad nie) weer wil aantrek kerk toe...
Shalome se hare het twee-dae oue koeke in (nee, het nie saterdag hare gekam nie)... 
en klein baba Hannes wil op geen ander plek as sy Ma se heup wees nie...
en natuurlik die kersie...
ek en Rudi baklei toe sommer lekker oor alles!

in die kerk kyk ek dan na ander mamma's...en hier is die lokval...ek begin vergelyk.. 

ek kyk na hierdie ander mamma's en dit lyk of hulle alles "together" het...

ek begin dan ook sommer die leuen-gevulde details invul dat hulle huise silwer skoon en aan die kant is, dat hulle kinders nooit baklei nie, dat hulle seker ELKE ete 'n gesonde bord kos vir hul gesin voorsit (nooit, OOIT, 2 minute noodles), dat hulle nooit vloek of kwaad word (nie eers in hul gedagtes), nooit van die dorp af plaas toe ry met al drie passasiertjies aan die huil...en as dit gebeur, sal sy dit natuurlik baie goed hanteer...nooit raas en skree of sommer self begin huil nie...o nee, want sy het haar lewe agtermekaar, haar beplanning is perfek, haar hormone altyd in perfekte balans, haar hare en grimering foutloos en sy brand nooit haar rys nie!!! 

as ek hierdie skryf, besef ek hoe belaglik dit is...en tog...

ek het iewers op die internet hierdie aanhaling gelees "the reason we feel insecure is because we are comparing our 'behind-the-scenes' with someone else's highlight reel"

vir my is die GROOT probleem met vergelyking dat dit jou van LIEFDE wegrokkel...

jou fokus verskuif van God se ONVOORWAARDELIKE liefde vir jou en vir ander...

want kom ons wees nou eerlik, met vergelyking is daar maar altyd iemand beter af...en iemand slegter af...

jy moet kies: die paadjie van OF minderwaardigeheid OF trots...

en altwee lei na liefdelose gedagtes...oor jouself of die ander persoon...

maar hier is die goeie nuus vir my en jou...daar is 'n 'exit'...
ons hoef nie op hierdie paadjies aan te hou nie...
ons kan afklim...en stop...
en op Sy skoot klim...en vra...
om Sy hart van liefde vir jou te wys...hoe lief hy vir jou is...hoe TEVREDE hy is met jou (en jou kinders...deurmekaar hare en al!)...hoeveel Sy genade is...dat die PRYS wat hy betaal het GENOEG was...
vir jou...en al die ander mamma's!...

so nou kan ek na my (honds)dol sondag oggend kyk en lag (en daaroor skryf)...
en ek kan na die ander mamma's kyk en bly wees vir hulle...
bly wees SAAM met hulle dat hulle al iets kon uitfigure van hierdie WONDERLIKE, moeilike en partykeer downright terrifying ding wat ons moederskap noem!

die ander ding met vergelyking is dat dit teen spoed van wit lig elke tikkie vreugde en tevredenheid laat wegsypel...
MAAR nou is my huisgesin wakker en my man HONGER...en as 'n man HONGER is...

so groete en liefde en BAIE SEEN vir al julle lieflike mamma's daarbuite!

Leandri 

PS: doen jouself 'n guns en gaan lees ook hierdie goeie post oor vergelyking deur Lisa Byrne (the quickest way to rob your life of happiness)
 
dit sal wonderlik wees as jy kan deelneem aan die gepsrek in die COMMENTS! vergelyk jy ooit met ander? watter "exits" het jy al ontdek?






 

Saturday 24 November 2012

ASPRIS lewe



Aspris lewe



















die laaste ruk was 'n besige, rowwe, dol tyd...

voel of ek dit heeltemal te gereeld sê...

en dit raak dan die verskoning vir 'n sms wat nie gestuur word nie...
'n verjaarsdag wat gemis is...
n telefoonoproep wat nie gemaak is....
'n ongeduldige mamma wat nie wil speel Shalome is n klein katjie nie...
'n kwaai mamma as Hannes die deur (van die enigste komkuiskas met deure) oop kry en pasta en asyn en wat nog als op die vloer mors...
'n moeë mamma wat nie saam met Mary-Jane wil motte vang in die badkamer...en...en....

ek hou nie hiervan!
ek hou nie van die gevoel dat die lewe net gebeur en ek saam gesleep word van een ding na die volgende...
ek hou nie daarvan dat ek nie energie het om meer gedoen te kry...
EK HOU NIE DAARVAN OM HEELTYD MOEG TE VOEL NIE...
ek hou nie daarvan dat ek die uur(e) voor Rudi huis toe kom, omwens...
my deurmekaar huis vang my: ek hou nie daarvan dat ek nie in n vertrek kan sit, sonder om te sien wat ek nog als moet doen...wil doen... of nie gedoen het nie...
ek hou nie daarvan dat ek heeltemal te veel vir die kinders sê: "nie nou nie" of "miskien later" of bloot net "nee"...en dit dan gewoonlik net omdat ek te moeg is of, die waarheid? net nie LUS is nie!
ek hou nie van die gevoel wat die samelewing aan my probeer afsmeer dat ek beisg is om op iets uit te mis as ek nie hierdie tv-program kyk, of op daardie reis gaan. of so ervaring beleef het nie.

vanoggend wil ek STOP...en dink...en bevraagteken.
hoeveel van waarmee besig is, is WERKLIK belangrik?
wat het ewigheidswaarde...of gaan selfs oor een, vyf of tien jaar n verskil maak?

gaan ek en rudi, oor tien jaar, mekaar op die skouer klop, as ons die huis aan die kant kon hou, die hele tyd wat ons kinders klein was...of wil ons eerder sê ons het gestop en geluister as hul praat, ons het saam gespeel op die mat, saam geverf, saam plaas gebou in die sand...saam geLEEF.

'n woord wat ek begin raak lees op die internet en wat ek weet relevant is vir my en resoneer met my binneste is "intentional living"

kon nog nie 'n lekker afrikaanse vertaling kry wat vir my getrou die betekenis beskryf. doelgerig lewe of doelbewus lewe...klink...wel...te DOELgerig en ek dink nie dis heeltemal die idee.

dit gaan eerder om te KIES om die lewe te LEEF, om te stop om die rose te ryk...
om nie so gejaagd en moeg te wees, dat jy al die spesiale oomblikke mis nie.

dis om ASPRIS te lewe...in 'n positiewe sin....

om ASPRIS te kies om die vuil skottelgoed te los vir later en saam jou driejarige legkaart te bou (of motte te jag)

om te STOP en te luister as jou vyf jarige 'n storie vertel...want iewers is daar dalk n oomblik, wat sy die venster van haar hart oopmaak, en wat jy die geleentheid het om te sien wat regtig aangaan...en om dalk iets waardevols te deponeer (of te ontvang)


dis om ASPRIS, doelbewus minder aktiwiteite te doen...om MEER tyd te hê om jou kinders (en huweliksmaat) werklik goed te leer ken. 

om ASPRIS meer WAKKER en IN-DIE-OOMBLIK te leef...eerder as om die tyd om te wens, of te wag vir die perfekte omstandighede (meer geld, ouer kinders, lekkerder werk)


om APSRIS DANKBAAR te wees. om ASPRIS 'n gesindheid van dankbaarheid te kweek. dankbaar vir jou kinders, man, huis, kar, stoute honde (moeilike een!), familie-lid wat jou irriteer(ha-ha)...

om ASPRIS minder GOETERS bymekaar te maak...wat ek dan moet skoon en aan die kant hou.

om ASPRIS minder te KOOP sodat ek meer kan GEE.

om ASPRIS meer dingte te doen wat my gees, siel en liggaam voed...

maar nou....nou is Hannes wakker en my dag moet begin...en ek wil ASPRIS vandag gaan lewe...elke oomblik daarvan

lekker naweek vir julle almal...of as jy hierdie eers maandag lees...lekker week vir jou vol van ASPRISTE keuses om meer te LEEF

liefde en seen,
leandri

Monday 5 November 2012

"sanity-savers" vir die rowwe dae

ek weet daar is die dae wat mens net verstom staan oor hoe goed als verloop...
die kinders is lus vir die pap wat jy gee...
hulle is opgewonde oor die klere wat jy uit die kas haal...
hulle geniet en neem ywerig deel aan als wat jy voorstel...
eet middag ete met 'gusto' en vat sowaar AL DRIE GELYK 'n middagslapie...!

maar dan is daar mos daai dae(weke) wat als net skeef loop, skeef sit en skeef le!

ek het 'n paar "sanity-savers" wat ek uit my hoed pluk (partykeer sommer so een na die ander) as dinge rof begin gaan...

1. YSIES 
PEPS het sulke oulike en GOEDKOOP popsicle bakkies wat baie goed werk vir ons...die grootte is perfek vir my drietjies 

 
ons vat elkeen 'n ysie en gaan sit onder die bome of op die trampoline...

maar jy hoef nou nie uit te storm en bakkies te gaan koop...gewone ysbakkies werk net so goed...vir klein babsie amper beter...en jy hoef ook nie koeldrank of melkysies te maak...my kinders raak net so opgewonde oor water ysies!



2. TEE-partytjie
hierdie idee het 'n vriendin (dankie Esme!!) vir my gegee...


ons maak 'n pot tee, sommer met melk en suiker/heuning klaar by (as jou geduld en energie dit toelaat kan jy dat hul self melk en suiker ingooi) 
en dan gaan sit ons iewers en drink tee (hannes kry sy eie koppie as ons buite sit)



van ons gunsteling plekke is: onder die eetkamer tafel, in die tent (in die kamer of buite) of op 'n kombers onder die bome. ek gebruik dan sommer die geleentheid om bietjie etiket(nie slurp en burp) te leer, maar my oudste het bietjie afblaas en lawwe tyd nodig so dan hou ons milo-party en dan is die enigste reel dat ons dit moet geniet!

3. DANS en SING
 met die radio lekker hard... dans en sing ons, ons harte en frustrasies uit!

4. BOEK LEES
ons lees elke aand, maar ek sal hierdie graag nog meer wil doen, die kinders(en ek) geniet die tydjie op die bank/bed darem baie!


5. KLEI SPEEL
daar is amper altyd 'n plastieksakkie selfgemaakte klei in die yskas...ek het n emmertjie met drukkers en gee vir elkeen 'n smeermes om te sny of 'n sosatiestokkie (hannes speel gewoonlik op die vloer met die ekstra koekiedrukkers in die emmer) en hulle speel so lekker soos 'n peanut butter en stroop broodjie! dis 'n wonderlike aktiwiteit om die kiddies besig te hou terwyl ek gou die kos klaarmaak of net gou iets wil afhandel...die slag as ek myself sover kan kry om net te stop en saam te speel is dit die heel lekkerste vir ons almal!

6. GAAN STAP
wanneer dit moontlik is, is hierdie 'n wonderlike manier om net weer te 'regroup'. ek weet nou al my kids gaan wil klippies optel, so hulle trek sommer die blou skottel-waentjie saam en dan kan hulle na hartelus oplaai. 

ek probeer om dan maar te stop vir elke grassie, blommetjie, gogga, voeltjie-spoor...en klippie...om net rustig in die oomblik saam hul te wees.  as jou tyd en energie min is, is net 'n rondte deur die tuin partykeer al klaar genoeg!

7. WATER
jy hoef nie duisende liters water te gebruik of 'n swembad te he ...
'n vyf liter roomysbak en 'n koppie en teelepel vir elkeen is genoeg om hulle vir 'n hele tydskrif en koppie koffie/tee lank besig te hou ;) 

ons het nie 'n swembad waar ons nou bly, so ek gee vir elkeen 'n skottel - het 'n wonderlike ou sinkbad vir ousus!  hulle kan dan na hartelus in en uitklim (hannes se gunsteling) of spring en plas en "hare-was". as buite moeilik is kan jy 'n bietjie water in die bad tap (3-5cm) en hulle insit met plastiek koppies en lepeltjies of plastiek poppies wat gebad kan word. MET WATER IS DIT BELANGRIK OM MAAR HEELTYD TOESIG TE HOU.


8. NAELS VERF
ek weet hierdie is dalk 'n 'girls only' maar ek moet dit noem, want my twee dogtertjies LOVE dit! vir my is dit wonderlik om weer na hulle klein vingertjies en toontjies te kyk (en te soen) en hulle klein baba voetjies te onthou. ek sny dan sommer weer die naeltjies em velletjies soos nodig. Hulle wil nou begin self verf maar ek laat dit net so nou en dan toe ;)

die volgende twee aktiwiteite bere ek vir die dae wat my energie en geduld genoeg is om dit saam met hulle te GENIET eerder as om dit te doen en dan heeltyd kwaai te wees

9.KOEKIES VERSIER 
met kolwyntjies, muffins, tuisgebakte koekies of selfs marie beksuitjies doen!

ek maak versiersuiker in lekker helder kleure aan (met water of botter...afhangend van wat ons versier) en skep dan die versiersuiker in klein plastiek sakkies...mens kom eitlik baie ver met min, so dit hoef nie baie te wees as jy versigtig is vir te veel suiker - 'n teelepel per kleur meer as genoeg...byt dan sommer (kan dit sny met 'n skertjie as jy meer 'proper' wil wees) die een onderste hoekie af en druk die versiersuiker deur die gaatjie...ek gee ook gewoonlik bietjie silwer balletjies, vermicilli of wat ookal beskikbaar is!

10. VINGERVERF
eintlik is ek mal oor hierdie aktiwiteit...

 
maar die logistieke met baba-boetie maak dat ek nog net vir hierdie aktiwiteit kans sien as hy slaap. maak maizena-pap aan (soos wat jy witsous sou maak, maar net met water) en dan gooi ek kleursel by...ek skep dit dan sommer in bakkies met n lepetjie in elk en dan skep ons die verf op ons blaaie - 'n gunsteling is "verassing-prentjies' waar jy verf op een kant drup en dan die blaai toevou en weer oopmaak. 

'n ander idee is om die 'verf'' in ziplock sakkies te gooi en dan kan hulle met hulle vingers teken en weer die prentjies uitvee - 'n 'skooner' opsie vir n reenerige dag as jul binne moet werk. die twee girls verf gereeld met gewone verf en kwassies ook...ek het n voorraad ou papier en 'n 'toolbox' met verf-supplies en hou dit byderhand om vir hul uit te haal as hul vra om te verf - dis dalk 'n bietjie moeite (die uithaal en skoonmaak) maar so die moeite werd as ek kan kos maak of op die telefoon praat, sonder dat die huis afgebreuk word

watter ander "sanity-savers" het jy in jou hoed? watter deel van die dag is gewoonlik vir jou die moeilikste?

Monday 29 October 2012

Ons Goeie Herder...

ek het die laaste week en 'n half 'n paar keer voor die rekenaar kom sit om iets te skryf...

 ek wou jou vertel van my 5jarige wat tantrums in die winkel gooi wat enige 2jarige sal laat skaam kry...van wat die tantrums my geleer het...oor die neerlê van "my idee van perfek'...

maar niks wou vloei en reg klink nie...

gister was ek by 'n vroue tee en het ek 'n boodskap gehoor wat hierdie sukkelende mamma so VRY gemaak het en weer moed gegee het om aan te gaan...

ek gaan nie die hele boodskap nou hier deel...miskien kry ek later 'n kans...

maar vanaand, mamma-vriendin wil ek vir jou sê...Jesus is jou GOEIE Herder (Johannes 10:11)

wat dit vir my op die oomblik beteken is dat Hy KLAAR betaal het, KLAAR voorsiening gemaak het vir al die areas waarmee ek sukkel en waarin ek faal...hoe wonderlik is dit nie!

my vermoë laat my heeltemal in die steek om hierdie reg te verduidelik, so ek wil graag 'n ou bekende Psalm oor jou bid...mag Heilige Gees jou bedien wanneer jy dit lees!

Liewe Mamma-vriendin,  die Here JESUS is jou GOEIE Herder...

in die neerlê van Sy lewe(Joh10) het Hy alles voorsien, sodat daar NIKS sal wees wat jou ontbreek nie, sodat daar GENOEG genade is vir jou dat jy môre oggend (en elke oggend) weer sal kan opstaan en weer sal kan probeer...om 'n mamma te wees...om 'n vrou te wees

Hy lei jou, liefste vriendin, na groenweilvelde, na waters waar daar rus is...jou tênkie voel dalk leeg en jou oë seer van die min slaap...mag jy vanaand(vanoggend) onthou dat hierdie ook net 'n kort seisoen is in jou en jou kinders se lewe...mag jy ervaar en sien hoe hy jou lei na groenweivelde...'n koppie koffie saam met n goeie vriendin, 'n onverwagte aanbod om die kinders op te pas, die kinders wat wonderbaarlik almal vroeg aan die slaap raak!

Hy gee jou NUWE krag..as jy voel dat jy aan die einde van jou draad gekom het...dat daar NIKS meer is om te gee...mag jy voel hoe Sy krag jou kom versterk, dat as jy terug kyk dat jy sal weet dis net Hy wat jou deurgedra het...dat jy 'n getuienis sal hê van Sy voorsiening vir jou!

Hy lei jou op die pad van GEREGTIGHEID, tot eer van Sy naam...as gevolg van die prys wat Jesus betaal het, staan ons geregtig...geregverdig voor Vader God...Sy bloed was alle aanklagte weg...jy weet mos daardie aanklagte dat jy nie n goed-genoeg mamma of vrou is nie:
jy sien 'n ander kind se kosblik en trap in die lokval van vergelyking...of 'n ander mamma kom ge-"make up" en ge-"polish" by die skool aan en jy is in 'n sweetpak broek met jou hare in n bokstert...of dit voel of jou dag gekenmerk word deur talle "mini meltdowns" tussen jou en jou peuters...of jou geduld is te min, jou woorde te hard, jou wysheid skiet kort...Jesus sê: Ek het klaar betaal, dit is volbring...Ek gaan verheerlik word deur en in jou gebrokenheid!

Wanneer jy loop deur die vallei van doodskaduwee...deur daai donker, diep kloof waar al jou vooraf uitgewerkte antwoorde en verklarings nie meer werk nie...wanneer niks sin maak...dit lyk of daar niks is om voor te hoop...hoef jy nie te vrees nie, want Jesus is by jou...ek weet party mense sien dit anders, maar ek besef net al hoe meer dat God nie beloof niks slegs gaan ooit met ons gebeur nie...Hy beloof wel dat Hy by ons sal wees...en dat Hy weet, selfs van elke haar wat van ons kop afval. In die doodskaduwee sê Jesus steeds ek het KLAAR betaal sodat jy die genade en GENESING kan ontvang wat jy nodig het...

Hy berei vir jou 'n feesmaal, voor die oë van al jou vyande...mag jy midde-in jou groot krises (siekte, finansiële of huweliks probleme, kind wat sukkel) of klein krises ('n peuter wat nie 'n trui wil aantrek, die hoeveelste glas gemorste koeldrank) beleef hoe God jou as eregas verwelkom... jou kop salf met olie (jou toerus vir die situasie) en jou beker(jou hart? jou energie? jou geduld?) OORvol maak!

Net GOEDHEID en GUNS sal jou vergesel al die dae van jou lewe...mag jou oë oopgaan om te sien hoe en waar Vader God jou seën...waar Hy jou guns gee...waar Hy voorsien het.

en jy sal bly in die Huis van jou Vader, al die dae van jou lewe...mag jy nie vasgevang raak in die tydelikheid van die oomblik of van vandag nie...mag jy onthou dat jy n HUIS het, 'n veilige plek het, by Abba Vader (Pappa God)!!

Al my liefde en seën vir jou! Mag jy veilig en geliefd voel hierdie week!

jou mamma-kameraad-vriendin
leandri

Watter openbaring van Jesus help jou op hierdie stadium? Waarmee sukkel jy vandag? Waaroor kan ons saambid vir jou? Los gerus 'n "comment" en kom ons bou saam 'n gemeenskap van mamma's wat mekaar ondersteun!

PS:Weet nie hoe om te "comment" ? Kies die opsie "name/url" en tik net jou naam in...en daar gaan jy!

Tuesday 16 October 2012

as dinge skeef loop...

vandag het ek n paar goed gedoen wat NIE op my mental to-do-list was, toe ek vanoggend opgestaan het nie...

die vreemdste ding moet wees dat ek my grasperk gestofsuig het!! en NEE my appelkarretjie het nog nie heeltemal omgeslaan nie...

vandag was maar net een van 'daai' dae...

ek wil jou nou nie verveel met te veel detail...hier is die kort daarvan:

daar was 'n sak met wit polisterien balletjies op ons solder (jip, soek vir moeilikheid)

ons het klein hondjies (hier kom moeilikheid)

die sak was om een of ander rede op die grond (definitief SMEEK vir moeilikheid)



die sak word stukkend gebyt!

die skeurtjie was klein genoeg dat Rudi (manlief), nie dink dis nodig om die gat toe te plak voor hy dit weer bere op die solder nie...

waarmee hy nie rekening gehou het nie, was die wind wat onder deur die dak waai en hoe staties en VEERLIG daai klein balletjies is

vanoggend toe ek die deur oop maak wat na ons garage lei (eintlik net n glorified afdak...nog geen deure), was dit net spierwit, STATIESE, klouerige balletjies op die vloer, kaste, kar...en grasperk!

dinge het skeefgeloop...

so rukkie terug het ek en Rudi gepraat oor hoe dit ons soms kan pootjie as iets verkeerd loop en dit sommer dan voel of die hele dag ontspoor is...

ons besluit toe dat ons dalk moet ophou om te verwag dat alles altyd moet 'reg' loop...nie op 'n pessimistiese "daar gaan maar altyd iets verkeerd" manier nie, eerder net om in jou gedagtes ruimte te laat dat alles dalk nie heeltemal gaan verloop soos wat jy in jou kop gedink het nie...

die naweek woon ons toe n wonderlike kursus by wat gaan oor vreuge en lag ...besluit toe dat dinge-wat-skeef-loop ons lag 'trigger' gaan wees ('n doelbewuste besluit om te soek na die humor in 'n situasie)

hier kom my toets toe in sy sneeuwitte glorie...

en ek faal...

ek grom oor die stukkende sak, oor die gemors, oor die kinders wat vol wit balletjies is en dit orals in die huis agterlaat soos hansie-en grietjie spore,  oor my ander planne wat nou eers moet wag, oor die gesukkel om dit skoon te maak...

en die balletjies wat pak in die stofsuier...

en toe terwyl ek so sukkel met die verstopte stofsuier en met geduld met Shalome (ousus) wat 'help', skakel ek die suier aan en kry n FULL BLAST balletjies in my gesig! 

kwaad woorde brand op my tong...

en toe hoor ek Shalome se laggie, wat klink soos sagte klokkies...

haar ogies kyk uitnodigend (lag saam, mamma!) en onseker (kom hier n ontploffing?) na my...

en ek lag! sommer lekker kliphard uit my maag...!

en shalome lag...!

en terwyl ons so lag voel ek hoe die frustrasie en spanning uit my vloei en die res van die skoonmaak gaan makliker en vinniger...en was baie meer pret (almal moes n beurt kry om ge-'blast te word)

so hier is my seenwense vir jou mamma-vriendin: mag die Heilige Gees jou seen met Sy vreugde vandag! Mag Hy jou sensitief maak om die geleenthede vir lag raak te sien!!

liefde en seen,
leandri


Monday 15 October 2012

op my merke, gereed...SPRING!

dis nou al n rukkie wat ek dink en droom om te probeer om te blog...

ek het al amper drie maande terug hierdie "profile" opgestel...

en toe vasgehak!


dalk moet ek dan begin met hoekom ek wil blog:

op hierdie maltrap pad van mamma en vrou wees, leer ek elke dag nog iets...

oor hoe om 'n kleuter, 'n peuter en 'n baba gelyk te betrek by n kunsaktiwiteit...(of hoe om dit NIE te doen nie - haha)


of het ek n a-ha oomblik oor hoe om n tantrum te hanteer...

of hoor ek by PappaGod wat regtig in my dogtertjie se hart aangaan, hoekom sy so "stout" is...

of ek en my man het n deurbraak in kommunikasie wat ons verhouding verdiep...

ek leer meer en meer om vry te kom van vrees, vergelyk met ander en om Jesus te aanbid in die alledaagse, praktiese neusies afvee, doeke omruil, gemorste koeldrank opvee en die hoeveelste rusie hanteer...

en ek dink (glo?hoop?) dat wat ek geleer het, dalk vir iemand anders kan help en vryheid bring...

dis dan seker hoekom ek wil blog eerder as om net n joernaal te hou...

en dan het ek ook die hoop en droom dat hierdie n gemeenskap (n veilige plek) kan wees vir mamma's...

waar ons kan erken dat hierdie nie altyd maklik (of selfs nie eers lekker) is nie...

waar ons kan erken dat party dae wil ons sommer vroeg-vroeg handoek ingooi as die derde bakkie cheerios op die vloer beland...dis nou nadat die hele kas uitgegooi is opsoek na n 'hello kitty' hemp (wat sy gister aangehad het), baba al van 5am lus was vir speel en ousus sommer net moeilik en ontevrede wakker geword het...

maar dan ook dat ons hier mekaar kan bemoedig om daai handdoek maar week op te tel, n goeie skud te gee en weer (en weer, en weer) te probeer!

want nee, hierdie is nie n treurmare oor hoe moeilik dit is om n mamma te wees en hoe sleg ons mans en kinders is nie... nee dis eerder n waardering van eg en eerlik en opreg wees! n feesviering van die (rare) oomblikke waar als reg loop en n terugleun in Jesus se genade in my onvermoe om myself en my kinders te verander...

en dan is hierdie 'n uitlaat klep vir my...n plek waar ek my gedagtes kan orden...myself weer kan herinner aan die werkilke prioriteite...waar ek kreatief kan wees met woorde en gedagtes, kan filosofeer en uitsorteer.